WES-KAAP. – ’n Verdagte is Woensdagmiddag in hegtenis geneem nadat ‘n vroulike stapper op die Pyp-staproete in die noordelike deel van Tafelberg Nasionale Park (TMNP) van haar selfoon beroof en aangerand is.
Volgens SANParke is daar omstreeks 14:25 ’n berig oor die voorval ontvang. Veldwagters, insluitend die spesiale eenheid vir operasies ter see, lug en berg, is ontbied. ’n Soektog is geloods, waarna ‘n verdagte wat aan die beskrywing voldoen en die gesteelde selfoon by hom gehad het, aangekeer is. Die slagoffer het ‘n saak by die Kampsbaai-polisiekantoor aanhangig gemaak. Lede van die Kampsbaai-speurtak het tydens die operasie gehelp om die gebied te beveilig.
SANParke het besoekers aangeraai om altyd versigtig te wees tydens buitelugaktiwiteite en om verkieslik in groepe te stap. Hulle het verder veiligheidswenke herhaal, onder meer om nie alleen te stap nie, die roete vooraf te ken, genoeg water saam te neem, die weer na te gaan, waardevolle items by die huis te laat en op gemerkte roetes te bly.
Die park het beklemtoon dat toegang te alle tye op eie risiko geskied.