MPUMALANGA. – Een verdagte is doodgeskiet en nog twee gewond toe ‘n skietery met die polisie vanoggend omstreeks 04:00 in Kwagga A in Kwaggafontein uitgebreek het.
Kol. Donald Mdhluli sê ‘n operasie om inligting op te volg, is geloods nadat ernstige misdade, wat afpersing en poging tot moord insluit, aangemeld is. Die verdagtes het die polisielede opgemerk en begin skiet. Die polisielede het teruggeskiet en ‘n verdagte noodlottig gewond. Twee ander verdagtes wat skietwonde opgedoen het, is gearresteer en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.
Mdhluli sê ‘n vierde verdagte wat vermoedelik ook gewond is, het van die toneel gevlug. Daar word tans na hom gesoek.
“Die SAPD doen dus ‘n beroep op lede van die publiek, veral personeel by hospitale en ander mediese fasiliteite, om waaksaam te bly en enige individue aan te meld wat met skietwonde of beserings voordoen wat ooreenstem met ‘n onlangse gewelddadige gebeurtenis.”
“Ons sal geen daad van geweld of intimidasie duld nie en sal diegene wat die welsyn van ons burgers bedreig, vervolg. Gemeenskapslede met enige inligting wat kan help om die verdagte op vlug vas te trek, word aangemoedig om na vore te kom. Ons bedank ons beamptes vir hul dapperheid en toewyding om die wet te handhaaf. Saam kan ons verseker dat ons gemeenskappe veilig bly,” sê maj.genl. (dr.) Zeph Mkhwanazi.





