KWAZULU-NATAL. – ‘n Skietery het tussen polisielede in die uMzinyathi-area en ‘n verdagte uitgebreek, waartydens die verdagte gesterf en ‘n polisiebeampte in die arm gewond is.
Kol. Robert Netshiunda sê polisielede het ‘n deurbraak gemaak in ‘n saak met die inhegtenisname van ‘n verdagte wat vir driedubbelemoord gesoek is, in Msinga. ‘n Geweer wat vermoedelik tydens die misdade gebruik is, is in sy besit gevind.
Onderweg om die verdagte by die polisiestasie aan te hou, is nog ‘n verdagte met ‘n vuurwapen by ‘n plaaslike taxistaanplek opgemerk. Netshiunda sê polisielede het die verdagte genader en hy het op hulle geskiet, waartydens ‘n polisielid in die arm gewond is.
Die polisie het teruggeskiet en die verdagte is noodlottig gewond. ‘n .38 Special-rewolwer, waarvan die reeksnommer verwyder is, is in sy besit gevind.
Beide die vuurwapens sal aan ballistiese toetsing onderwerp word om vas te stel of dit aan misdaadtonele gekoppel kan word.
Die polisielid is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Netshiunda sê die verdagte wat in aanhouding is, sal binnekort in die Msinga-landdroshof verskyn.





