Brekende Nuus
Afrikaans

Verdagte gesoek na polisiesersant na skietery sterf

Foto: SAPD
Foto: SAPD

LIMPOPO. – Caiphus Nengwani Ndou (32) word gesoek nadat hy glo Vrydag van die toneel gevlug het waar ‘n polisiesersant (44) geskiet is. Die sersant was aan die Levubu-speurtak verbonde en het later in die hospitaal gesterf.

Brig. Hlulani Mashaba sê die sersant en ‘n kollega was Vrydag omstreeks 11:00 na ‘n sakeroof ontbied, waar die sersant geskiet is.

Terwyl Caiphus Nengwani Ndou gesoek word, is die tweede verdagte wat in hegtenis geneem is, is onder polisiebewaking in ‘n hospitaal. Nog ‘n verdagte is op die toneel noodlottig deur die polisielede gewond.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

‘n Onbekende verdagte (23) is Vrydag omstreeks 11:00 tydens ‘n skietery met die polisie in die Levubu-polisiëringsgebied dood na die polisie op ‘n sakeroofklagte reageer het.

Brig. Hlulani Mashaba sê die lede is ingelig drie onbekende verdagte mans het glo ‘n winkeleienaar van ‘n onbekende bedrag geld beroof. Hulle het met sy voertuig weggejaag. Die polisielede het in die rigting van Tshakhuma gery en die verdagtes langs ‘n kerk opgespoor. Die verdagtes het glo op die polisielede geskiet. Daar is teruggeskiet en een verdagte is noodlottig gewond. ‘n Ander verdagte het ontvlug en nog een (32) is in hegtenis geneem. Die oorledene het glo ‘n vuurwapen in sy besit gehad.

‘n Polisielid wat raakgeskiet is, is in ‘n hospitaal opgeneem. Nog ‘n polisielid is lig beseer.

Enigiemand wat die polisie kan help om die oorledene te identifiseer of inligting van die gesoekte verdagte het, word versoek om sers. Madzivhandila Nyambeni by 082 319 9622 te bel.