MPUMALANGA. – ‘n Verdagte (29) is Saterdag deur die Valke in Greytown, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem. Hy het glo gedurende Oktober 2020 ‘n Toyota Fortuner ter waarde van R455 900 op krediet gekoop deur vervalste bankstate en ‘n betaalstrokie by ‘n finansieringsinstelling in Delmas in te dien.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê nadat die voertuig aan die verdagte oorhandig is en hy die handelaar verlaat het, is oor die afgelope vyf jaar glo nie een enkele paaiement betaal nie. Die finansieringsinstelling het die Valke vir ’n ondersoek genader. Die ondersoek het die span na Greytown gelei, waar die verdagte vasgetrek is.
Hy sal na verwagting vandag vir die eerste keer in die Delmas-landdroshof verskyn.





