GAUTENG. – ’n Verdagte is Vrydag 6 November in hegtenis geneem nadat hy na bewering onwettig toegang tot ’n eiendom in Asterstraat, Lindo Park, verkry en ’n venster gebreek het. Die voorval is omstreeks 13:20 aangemeld nadat ’n lid van die publiek die veiligheidsmaatskappy ProShield oor die verdagte ingelig het.
Volgens ProShield se verslag het veiligheidsbeamptes die verdagte op die perseel aangetref, waarna hy na bewering aggressief geraak en ’n veiligheidsbeampte aangerand het. Pepersproei is gebruik om hom te bedwing, maar hy het daarin geslaag om weg te hardloop. Verskeie ProShield-eenhede het hom agternagesit en hom naby die hoek van Stormvoëlweg en De Ruststraat aangekeer. Die polisie se lugvleugeleenheid het hom daarna in hegtenis geneem en na die Villieria-polisiestasie geneem, waar hy volgens die veiligheidsmaatskappy in aanhouding is.