LIMPOPO. – Die polisie is steeds op soek na ‘n verdagte nadat ’n poging tot ‘n huisroof op ‘n plaas vroeg verlede Maandag in die Groblersdal-omgewing aangemeld is. Cindy van Dyk (46) het haar in ‘n verdagte vasgeloop nadat sy ondersoek ingestel het toe sy voetstappe in die huis gehoor en die honde geblaf het. Sy het vir veiligheid skote met haar vuurwapen geskiet.
Kol. Malesela Ledwaba sê volgens rapportering was die vrou omstreeks 02:00 in haar kamer besig toe sy voetstappe in die huis gehoor en die honde geblaf het. Sy het aanvanklik vermoed dit is een van haar kinders, maar toe sy ondersoek instel, het sy op ’n onbekende man in die huis afgekom wat glo ’n vuurwapen gehad het. Sy is terug na haar kamer met die verdagte wat haar agtervolg het, waarna sy haar in die slaapkamer toegesluit en uit vrees vir haar veiligheid verskeie skote met haar gelisensieerde vuurwapen geskiet het. Die verdagte het daarna gevlug sonder om enigiets te steel.
Die polisie het later ’n speelgoedpistool op ’n bed gevind wat vermoedelik deur die verdagte gebruik is, asook ’n skroewedraaier wat glo gebruik is om toegang tot die huis te verkry. Geen beserings is aangemeld nie en die ondersoek duur voort.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om sers. Jappie Skosana by 082 318 9642 te bel.



