VRYSTAAT. – Die liggaam van ‘n man (46) wat op sy fiets gery het, is Saterdagoggend omstreeks 07:00 op die N1 in Bloemfontein met skietwonde aangetref. Nog ‘n man (48) is in ‘n toestand van skok aangetref.
Sers. Mahlomola Kareli sê die Parkweg-polisie is op soek na twee verdagtes wat by die insident naby die Southpark-stortingsterrein betrokke was. Die twee mans was op hulle bergfietse onderweg werk toe, toe hulle deur twee verdagte mans wat langs die pad gestap het, genader is. Die oorledene het verby die eerste verdagte probeer beweeg, maar is met ‘n baksteen agter die kop geslaan, waarna hy van sy fiets geval het. Hy is daarna deur die tweede verdagte geskiet. Buiten die wond van die baksteen, het hy ‘n skietwond in sy rug en aan sy linkerhand opgedoen.
Die ander fietsryer kon daarin slaag om van die toneel weg te hardloop en sy fiets agter te laat. Kareli sê die verdagtes het met die bergfietse, een silwer en die ander blou en wit, van die toneel gevlug. ‘n Veiligheidsvoertuig wat verbygery het, het die fietsryer wat van die toneel gevlug het, gehelp en die polisie ontbied.
Sake van moord en gewapende roof is geopen en Kareli bevestig ‘n soektog na vermomde verdagtes op bergfietse is geloods.
Enigiemand met relevante inligting kan speur.sers. Themba Dingile by 065 079 0973 bel.





