GAUTENG. – Twee verdagtes het Sondagoggend vroeg hulle moses teëgekom toe hulle met ‘n voertuig wat glo kort vantevore gekaap is, in Atteridgeville gery, gewond is en in hegtenis geneem is.
Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-distrik polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits polisiebeamptes het ná 02:00 inligting oor ‘n wit Mazda Rustler ontvang wat glo in Pretoria-Wes gekaap is. Inligting was dat die voertuig na Atteridgeville op pad is, waarna polisielede hulle op ’n toegangsroete ingewag en die voertuig kort daarna opgemerk het. ’n Poging om die voertuig tot stilstand te bring, was onsuksesvol en die verdagtes het gevlug, waarop ’n hoëspoedjaagtog gevolg het.
Die verdagtes het in Tloustraat naby Nkomo Village uit die voertuig gespring en weggehardloop, terwyl hulle op die polisie geskiet het. Die beamptes het teruggeskiet en beide verdagtes, 27 en 28 jaar oud, gewond. Altwee is in hegtenis geneem. Hulle is op die toneel behandel en daarna onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem.
Misdaadtoneelkenners het die toneel verwerk en ’n vuurwapen by een van die verdagtes gevind. Die twee word van die besit van ’n gekaapte voertuig, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook poging tot moord, aangekla. Die ondersoek duur voort om vas te stel of die verdagtes, sowel as die vuurwapen, moontlik met ander misdrywe verbind kan word.





