VRYSTAAT. – Die polisie ondersoek die moord op ‘n manlike slagoffer (30) Donderdagoggend vroeg op ‘n plaas buite Thaba Nchu.
Sers. Mahlomola Kareli sê die polisie is omstreeks 05:00 na ‘n moordklag op die plaas ontbied. Na bewering het drie gewapende mans wat hulleself as polisiebeamptes voorgedoen het op die plaas aangekom en die manlike slagoffer se naam uitgeroep.
Hulle het toegang tot die huis forseer deur ‘n deur oop te breek. ‘n Vrou en werknemer is in ‘n kamer toegesluit, waarna die verdagtes die slagoffer oor inligting van vermiste skape gekonfronteer het. Hy is met die vuiste en ‘n ysterdraadtrekker aangerand.
Kareli sê die vrou het omstreeks 05:00 daarin geslaag om uit die gesluite kamer te kom en het op die slagoffer se liggaam, met sy gesig na onder, met sigbare beserings aan sy lyf en kop, afgekom.
Die Thaba Nchu-polisie is ontbied en ‘n moordsaak is geopen. ‘n Soektog is na die verdagtes geloods. Enigiemand met relevante inligting word gevra om speur.sers. Menyatso Kganare by 073 138 0444 te bel.