NOORDWES. – Mamokgethe Gertrude Mashimbi (41) het na bewering beplan dat haar man, Thomas Mashimbi, ‘n voormalige polisiebeampte, op 21 Februarie 2018 in sy huis in Lebanon in Winerveld doodgeskiet is. Die moordsaak teen haar, Thandi Margaret Khumalo (38), William Maluleka (32), Nicholas Malope (35) en Jan Chauke (28) is vir verdere verhoor tot 10 Junie uitgestel.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê die vyf beskuldigdes word vir die moord en nog twee klagtes van sameswering of aanhitsing om moord te pleeg, huisbraak met die doel om te moor, moord met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie aangekla. Mamokgethe Gertrude Khumalo, beskuldigde nommer een, word ook van bedrog en meineed aangekla.
‘n Deskundige van ‘n selfoonnetwerk het die skakel van die beskuldigdes tydens die beplanning van die moord met mekaar gedemonstreer. Hy is ook reeds kruisondervra.
Gertrude Mashimbi het op 10 November 2017 ‘n beskermingsbevel teen haar man aangevra, wat toegestaan is. Sy vuurwapen is gekonfiskeer hangende die uitslae van die polisie se interne prosedures om sy bevoegdheid om ‘n vuurwapen te besit vas te stel. Die staat voer aan dit was sodat hy homself nie sou kon beskerm nie.
Volgens die polisieondersoek het Gertrude Mashimbi in Januarie 2018 twee persone, wat die saak aan die polisie gerapporteer en staatsgetuienis geword het, genader en hulle aangehits om ‘n beplande roof by haar huis uit te voer. Toe die plan nie werk nie, het sy vir Khumalo en die ander drie beskuldigdes genader.
Op die betrokke dag in Februarie het Gertrude Mashimbi glo toegesien dat hekke en die kombuisdeur nie gesluit is nie en Maluleka, Malope en Cahuke het die huis binnegegaan en die oorledene geskiet. Hulle het met twee selfone, ‘n televisiestel en R20 000 van die toneel gevlug. Gertrude Mashimbi en twee van hulle kinders was in die huis, maar is nie beseer nie.
Al die beskuldigdes is tussen 18 en 19 September 2019 in hegtenis geneem. Hulle sal in aanhouding bly totdat die saak afgehandel is.





