WES-KAAP. – Twee vermeende motordiewe het Vrydag twee verskillende skole se grond betree in hulle poging om aan die lang arm van die gereg te ontkom toe hulle deur lede van die Vishoek-polisie agternagesit is. Die voertuig waarin hulle gery het, het in ‘n doodloopstraat teen ‘n muur tot stilstand gekom. Een van die verdagtes is in aanhouding en verskyn vandag in die Simonstad-landdroshof.
Kapt. Frederick Van Wyk sê aan Nuusflits polisiebeamptes het inligting van ‘n gesteelde voertuig in die Vishoek-gebied opgevolg en die Nissan-bakkie opgemerk. Toe hulle dit tot stilstand wou bring, het die bestuurder in ‘n doodloopstraat ingery en saam met ‘n passasier uitgespring. Die bakkie het teen ‘n muur tot stilstand gekom. Een van die verdagtes het oor ‘n laerskool se heining gespring en die ander een het by ‘n ander nabygeleë skool ingehardloop. ‘n Verdagte (33) is later in hegtenis geneem en by die Vishoek-polisiestasie aangehou. Die polisie het op die voertuig as ‘n bewysstuk beslag gelê.
Van Wyk sê die saak sal deur die voertuigmisdaadondersoekeenheid ondersoek word. Alhoewel ‘n waarskuwingskoot geskiet is, is niemand beseer of enige eiendom beskadig nie.
Volgens ‘n verklaring van die Vishoek-polisie het die gebeure rondom Bay Primary School en Fish Hoek Primary School afgespeel.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





