Brekende Nuus
Misdaad

Vermeende rowers sterf ná rooftog in ongeluk

Foto's: SAPD

LIMPOPO. – Twee vermeende gewapende rowers is dood nadat die voertuig waarin hulle gereis het, Dinsdagoggend in die Marble Hall-polisiegebied op die R573 omgeslaan het. Die twee mans word voorlopig verbind met ’n gewelddadige rooftog by ’n vulstasie in Dennilton enkele ure vantevore.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê sowat 13 gewapende mans het omstreeks 02:30 ’n vulstasie by die Moteti-kompleks in Dennilton binnegeval. Die groep was glo met handwapens en gewere gewapen en het veiligheidswagte en ’n kassier aangehou voordat hulle na die kontantkantoor beweeg het. Daar het hulle na bewering ’n springstoftoestel gebruik om die kluis oop te skiet. ’n Onbekende bedrag kontant is gesteel, waarna die verdagtes verskeie skote geskiet het en te voet gevlug het. Verskeie pistool- en geweerpatrone is op die toneel gevind.

Omstreeks 05:10 het die polisie inligting ontvang dat ’n wit Nissan Navara met ’n Mpumalanga-registrasienommer op die R573 tussen Slaagboom en Siyabuswa, in die rigting van Marble Hall, omgeslaan het. Twee mans is by die voertuig aangetref. Die bestuurder is op die toneel dood verklaar, terwyl die passasier ernstige kopbeserings opgedoen het. Hy is na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het. Die polisie het ’n R5-geweer, twee R5-magasyne, 56 x R5-patrone, twee 9 mm-pistole, ’n leë 9 mm-magasyn en een 9 mm-patroon op die ongelukstoneel gevind. Die twee oorledenes, onderskeidelik 34 en 35 jaar oud, is positief met die rooftog by die vulstasie verbind. Sake van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook strafbare manslag, is by die Marble Hall-polisiekantoor geregistreer.

Lt.genl. Jan Scheepers, provinsiale kommissaris, het die verbind van die twee oorledenes aan die rooftog as ’n belangrike deurbraak bestempel. Die ondersoek duur voort om die oorblywende verdagtes te identifiseer en aan te keer.