MPUMALANGA. – ‘n Vermeende stroper is Vrydagmiddag deur veldwagters in die Kruger Nasionale Park doodgeskiet. Die polisie ondersoek dié insident en nog een van verlede Dinsdag.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê na bewering was die betrokke SANParke-veldwagters in die Laer Sabie-gebied op patrolliediens toe hulle omstreeks 15:00 twee vermeende stropers teëkom. DIe verdagtes het die bosse ingehardloop, waarna die veldwagters agterna is om hulle te soek.
Omstreeks 18:15 is die twee verdagtes weer opgemerk, maar hulle het glo dadelik op die veldwagters begin skiet. Die veldwagters het teruggeskiet, waartydens een van die verdagtes noodlottig gewond is; die ander een kon daarin slaag om weg te kom.
Veldwagters het nooddienste en die Skukuza-polisie ontbied, maar die verdagte is op die toneel dood verklaar. Die polisie het op ‘n jaggeweer en ammunisie, sowel as ‘n mes, in sy besit afgekom. Die verdagte is nog nie geïdentifiseer nie en die omstandighede van die insident word deur die polisie ondersoek.
Ndubane sê op 18 Maart het ‘n soortgelyke insident in die Malelane-gebied van die Kruger Nasionale Park plaasgevind, toe ‘n beweerde verdagte stroper doodgeskiet is. Veldwagters het glo twee verdagtes opgemerk en n skietery het ontstaan. Een van die verdagtes is gewond en het later gesterf, terwyl nog een volgens Ndubane net verdwyn het. Daar is op ‘n jaggeweer met ammunisie in die oorlede verdagte se besit beslag gelê. Hierdie oorlede verdagte is ook nog nie geïdentifiseer nie.
Ondersoek na beide die insidente duur voort.