KWAZULU-NATAL. – Iman Tshakeni (20), ‘n leerlingvlieënier wat op 12 Julie as vermis aangemeld is, se liggaam is op 16 Julie gedeeltelik nakend in Canelands ontdek. ‘n Verdagte (35) is gearresteer.
Konst. Thenjiswa Ngcobo sê die oorledene se liggaam het sigbare aanrandingswonde gehad. Sy is as die vermiste persoon deur Sydenham-polisie geïdentifiseer.
Die verdagte het vandag op aanklag van moord in die Durban-landdroshof verskyn.
Reaction Unit South Africa sê die verdagte is deur AO Pravin Seebaluka en ‘n span van Sydenham-polisie opgespoor en in hegtenis geneem. Volgens Rusa is ‘n Ford Ranger wat na bewering deur die verdagte gebruik is en nog ‘n VW Golf wat gebruik is om Tshakeni se liggaam in ‘n bos op ‘n plaas in Canelands te los, gevind.
Rusa sê volgens inligting was Tshakeni by ‘n kroeg in ‘n informele nedersetting in die omgewing van Clare Estate-krematorium, naby haar studentehuis. Tshakeni was saam met twee vriende toe ‘n onbekende man hom aan haar voorgestel het. Sy het met die Ford gery om haar twee vriende by hulle huise af te laai en is daarna glo saam met die onbekende man na ‘n onbekende plek.
“Daar word geglo dat haar hande vasgebind is voordat sy verkrag en verwurg is. Die verdagte het toe glo haar liggaam in die kattebak van sy VW Golf gelaai en dit die volgende dag op die plaas in Canelands gestort nadat hy ‘n kollega by die werk afgelaai het,” sê Rusa.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Vrou se gedeeltelike naakte liggaam is op ‘n plaas in Canelands gevind.
Reaction Unit South Africa het ‘n oproep vir hulp van die plaaseienaar ontvang. Hy het glo terwyl hy op die plaas gepatrolleer het, bene onder ‘n bos sien uitsteek. Reaksiebeamptes was omstreeks 22:20 op die toneel en het die liggaam van ‘n vrou, met beide hande vasgebind, aangetref. Die vrou, wat nog nie uitgeken is nie, het ‘n kort nagrok aangehad en het ‘n kleurvolle pruik/haarverlengings. Haar liggaam was gedeeltelik in komberse toegemaak. Volgens Rusa is die vrou verkrag.
Reaksiebeamptes kon sigbare liggaamlike beserings sien.
Die liggaam van die vrou waaroor Nuusflits vroeër berig het, wat op ‘n plaas in die Canelands gevind is, is moontlik dié van ‘n leerlingvlieënier wat vermis geraak het.
“Die identiteit van die oorledene is nie bevestig nie.”
Reaction Unit South Africa sê hulle is gebel deur ‘n vrou wat ‘n familielid van ‘n vermiste 20-jarige leerlingvlieënier is. Die vrou het vir Rusa gesê sy is seker die liggaam is dié van haar familielid en het die slagoffer se hare wat helderpienk gekleur is, beskryf.
Die vermiste vrou is oorspronklik van die Oos-Kaap, maar het na die Ethekweni-area verhuis om haar vlieënieropleiding by Virginia-vliegveld te voltooi. Sy is by Sydenham-polisie as vermis aangemeldna sy Saterdagoggend ‘n kroeg saam met ‘n man verlaat het en sedertdien nog nie weer gesien is nie.
“Die familie wend tans pogings aan om die ondersoekbeampte te kontak om met die uitkenning van die liggaam te help.”