MPUMALANGA. – Nomthandazo Matsane (50) is Woensdag deur die gespesialiseerde kommersiële hof op Nelspruit aan bedrog skuldig bevind.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi van die Valke sê die beskuldigde het in 2016 voorgegee om ‘n werknemer van Kabokweni Nursing College, verantwoordelik vir studenteregistrasie, te wees.
Niksvermoedende werklose jongmense het hulle aansoekvorms vir registrasie om as verpleërs opgelei te word, ingedien. Die aansoekers moes elk R12 500 aan Matsane betaal. Dit sou registrasie, uniforms en akkomodasie insluit. Altesaam 17 slagoffers het hulle geld oorbetaal en vir terugvoering gewag.
Die Valke het inligting oor die bedrog ontvang en dit ondersoek. Matsane en twee medebeskuldigdes is aan die sake gekoppel. Die ondersoek is afgehandel en ‘n lasbrief vir inhegtenisneming is gemagtig. Die verdagtes is in hegtenis geneem, het in die hof verskyn en is op borg vrygelaat.
Matsane is Woensdag skuldig bevind en tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde die beskuldigde onderwerp haarself vir drie jaar aan korrektewe toesig onder huisarres by haar huis te Marite. Sy sal 16 uur per maand, oor ‘n tydperk van drie jaar, gemeenskapsdiens by Matibela Traditional Authority verrig en aan programme soos deur die toesigkomitee vasgestel, deelneem. Verder sal Matsane ‘n maandelikse paaiement R3 000 (altesaam R99 300) aan die staat by die klerk van die Mbombela-hof moet inbetaal. Die 17 slagoffers sal by ontvangs van die volle bedrag dienooreenkomstig vergoed word.
Die ander twee beskuldigdes se saak is vir verhoor tot 13 Augustus uitgestel.





