NOORDWES. – Moloto Johannes Sathekge (28) staan nie net vir die beweerde ontvoering en verkragting van verpleegsters tereg nie, maar ook vir verskeie ander aanklagte, wat poging tot moord en 10 van roof met verswarende omstandighede, insluit.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die NVG, sê Sathekge het op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, twee van ontvoering, vier van verkragting, drie van inbraak met die doel om ‘n misdaad te pleeg en 10 van roof met verswarende omstandighede, voorgekom. Sathekge sou tussen Desember 2024 en Januarie 2025 die huise van vroue in die Ga-Chuene en Ga-Maja-woonbuurte betree en waardevolle items, soos selfone, skootrekenaars en geld, eis. Verdere beweringe is dat hy glo die slagoffers met ‘n panga gedreig en hulle minderjarige kinders seksueel aangerand het.
Tydens die misdade by die kliniek, het Sathekge glo die perseel betree, die veiligheidswag met ‘n vuurwapen gedreig en geboei, waarna hy die twee verpleegsters ontvoer het. Die verpleegsters is na bosse geneem, verkrag en van hulle selfone beroof. Die slagoffers kon daarin slaag om na die kliniek terug te keer. Tydens die ondersoek is Sathekge aan die misdade verbind. Toe hy gearresteer is, was hy reeds vir ‘n onverwante insident in polisie-aanhouding.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 April uitgestel. Die verdagte bly in aanhouding.