Wees op die uitkyk vir groot slaggate in Queensweg sowel as Quinnstraat. Daar is tans geen waarskuwingstekens nie.
Carina Smith wat elke dag met Greenlaan langs verby Star of the West moet ry, het ook ’n klagte ingedien. “ Die padoppervlakte gaan ‘n ongeluk veroorsaak. Die ander padgebruikers swaai uit of ry in die aankomende verkeer se baan om die slegte oppervlak te vermy. Dit raak nou ‘n ernstige frustrasie. Daar word basies net gaatjies toegemaak, maar dit dra glad nie by tot die verbetering van daardie pad nie.
Ek hoop eerlik daar kan ernstig iets aan gedoen word. Ek is tot bereid om ‘n alternatiewe roete te ry terwyl die hele padoppervlakte gelig en reggemaak word.”
Levona Itumeleng wat in Wellingtonstraat bly, ry elke dag deur dieselfde slaggat voor haar oprit. Die slaggat bly ook gevul deur water van ‘n lekkende watermeter. Haar buurman, wat anoniem wil bly, het dit reeds twee jaar gelede aan Waterwese rapporteer en dis tot vandag toe nie uitsorteer nie.
Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, is vir kommentaar gekontak. “Oor die algemeen is daar ‘n program met betrekking tot die herstel van slaggate wat in die breër stad voorkom. Die onlangse reën wat ons ervaar het, dra gewoonlik by tot die verslegting van ons padtoestande. Ons spanne het al die addisionele gebiede genoem in aanmerking geneem.”