KIMBERLEY. – Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het in sy repliek op die provinsiale rede sterk klem gelê op onteiening as beleidstuk en die provinsie se suksesse op die gebied van menslike ontwikkeling verdedig.
Die debat oor sy toespraak is egter gekenmerk deur skerp kritiek van opposisiepartye, veral oor swak dienslewering in onderwys en gesondheid. Die VF Plus het spesifiek die agteruitgang van munisipaliteite in die provinsie uitgelig en die regering se hantering daarvan gekritiseer.
Volgens Theo Joubert, VF Plus-LPW in die Noord-Kaap, is nege van die provinsie se 31 munisipaliteite amptelik in ‘n finansiële krisis. “Die krisis is hoofsaaklik die gevolg van wanbestuur, korrupsie en politieke aanstellings,” het hy gesê.
Joubert het aangevoer dat die oplossing vir hierdie verval daarin lê dat slegs bekwame individue in sleutelposte aangestel en behou word. “’n Omkeerstrategie moet geïmplementeer en deurlopend gemoniteer word. Verder moet die provinsie voldoende fondse bewillig om infrastruktuur in stand te hou,” het hy benadruk.
Die premier het ook kritiek verwerp dat onteiening sonder vergoeding beleggers afskrik en het verwys na die NP-regering se hantering van grond waarop die Gariep- en Vanderkloofdamme, asook Orania, gebou is. Volgens Saul is hierdie grond destyds sonder vergoeding bekom. Hy het verder beweer dat Orania se eiendom in 1991 vir R1,3 miljoen gekoop is, en dat die huidige waarde daarvan sowat R8 miljoen is, bereken teen ‘n gemiddelde inflasiekoers van 6%.
Joubert het egter hierdie bewerings betwis en gesê dat die VF Plus besig is met navorsing oor die geskiedenis van die Oranjerivier-stelsel se grondbesit. “Ons sal ons bevindings met die premier deel sodra ons volledige inligting bekom het,” het hy gesê.
Die debat oor onteiening en munisipale verval blyk ‘n voortdurende brandpunt in die provinsie te wees, met opposisiepartye wat die regering se beleid en dienslewering onder skerp loep neem.
*PERSVERKLARING