MPUMALANGA. – Drie volwassenes en ’n kind het Saterdagmiddag tragies omgekom in ’n botsing tussen ’n vragmotor en ’n sportnutsvoertuig (SUV) op die R40-pad tussen Barberton en Mbombela.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die insittendes van die SUV is op slag dood. Ná die impak het beide voertuie aan die brand geslaan en die slagoffers is onherkenbaar verbrand. Die bestuurder van die vragmotor het beserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
“Nooddienspersoneel en wetstoepassingsagentskappe het vinnig op die toneel gereageer. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie en ’n volledige ondersoek is aan die gang,” sê Mmusi. “Ons doen ’n beroep op motoriste om versigtig te bestuur, aangesien die ongunstige weerstoestande na verwagting die hele naweek sal voortduur.”
Die R40-pad is vir ’n tyd lank gesluit ná die ongeluk, maar is later heropen.