NEW YORK, VSA. – Vier mense is gisteraand in New York doodgeskiet toe ’n gewapende verdagte by 345 Park Avenue ingeloop en op mense begin skiet het voor hy selfdood gepleeg het.
Lees ook: 17 mense dood in kroegaanval in Ecuador
Die verdagte, Shane Tamura (27) van Las Vegas, het by die toringgebou in Manhattan ingeloop nadat hy van Las Vegas af New York toe gery het en lukraak op mense begin skiet het, voor hy met die hysbak na die 33ste vloer is om nog mense te skiet.
Vier mense is dood, insluitend polisiebeampte Didarul Islam, ‘n Bangladesjiese immigrant, wat as ‘n veiligheidsbeampte in die gebou gewerk het. Islam het twee jong seuns en sy vrou is swanger met hulle derde kind. Die identiteit van die ander slagoffers is onbekend.
Volgens polisiekommissaris Jessica Tisch het Tamura verskeie mense in die voorportaal van die gebou geskiet en is daarna na die hysbak. ‘n Vrou wat op daardie tydstip uit die hysbak gekom het, het ontkom. Tamura is na die 33ste vloer waar hy een persoon doodgeskiet het, in die gang afgeloop het en homself in die bors geskiet het.
Tisch het gesê Tamura het ’n geskiedenis van geestesprobleme gehad, maar sy motief vir die skietery is onbekend.
Die hoofkantoor van die beleggingsfirma, Blackstone en die hoofkantoor van die National Football League, asook die ouditeurfirma KPMG en ‘n tak van Bank of America, is onder andere in die kantoorblok gehuisves.
Bronne: BBC, The Mirror, Sky News
Lees ook: Vyf doodgeskiet by mark in Bangkok





