MPUMALANGA. – Vier mense het Dinsdagaand gesterf toe ’n bakkie en en ’n sedan op die R38-pad tussen Kaapmuiden en Louw’s Creek in die Laeveld reg-van-voor met mekaar bots. Ná die botsing met die bakkie is die sedan na die teenoorgestelde kant van die pad geslinger en het ‘n vragmotor getref.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapskakeling, sekuriteit en skakeling, sê vier slagoffers, wat die bestuurder en drie passasiers insluit, is op die toneel dood verklaar. Die insittendes van die bakkie is glo nie op die toneel aangetref nie. Die oorsaak van die ongeluk is op hierdie stadium nie duidelik nie, maar roekelose en nalatige bestuur kan volgens Mmusi nie uitgesluit word nie. Die ongeluk word ondersoek.
Jackie Macie, die LUR van die departement, doen ’n beroep op motoriste om, veral in die donker wanneer sigbaarheid verminder is, versigtig te bestuur.
“Terwyl die regering op alle vlakke programme implementeer om paaie veiliger te maak, is dit die verantwoordelikheid van elke bestuurder om die reels te gehoorsaam en die pad versigtig te gebruik. Die meeste ongelukke kan vermy word as bestuurders te alle tye waaksaam bly,” het Macie gesê.
Die LUR het met die families van die oorledenes meegevoel betuig.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





