Vier verdagtes deur polisie doodgeskiet

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. – Vier verdagtes is vanoggend deur die polisie in Harding doodgeskiet.

Kol. Robert Netshiunda sê ‘n rooftog het by ‘n mall in Harding plaasgevind. ‘n Sakeman het glo by ‘n bank in die mall geld onttrek. Hy was besig om uit die gebou te beweeg toe hy glo deur die verdagtes oorval en beroof is.

‘n Span, bestaande uit die Valke, honde-eenheid en ander eenhede het ‘n operasie geloods nadat inligting van die rooftog wat nog sou plaasvind, ontvang is. Polisielede het die verdagtes na die beweerde roof genader. Die verdagtes het glo polisie-opdragte geïgnoreer en op die lede geskiet. Die polisie het teruggeskiet en vier van die verdagtes noodlottig gewond.

In wat kol. Netshiunda as ‘n aktiewe misdaadtoneel beskryf, is die polisie steeds agter meer verdagtes aan, wat van die toneel in twee voertuie gevlug het. ‘n Vuurwapen en die geld wat geroof is, is in die besit van die verdagtes gevind.

Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom om die polisie in hulle ondersoek te help.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief