WES-KAAP. – Twee vissermanne se oop boot het Saterdag in sirkels, sonder die bemanning, twee seemyl van Morris Point in Stilbaai, gery.
Stéfan Grové, bevelvoerder van die NSRI op Stilbaai, sê hulp is omstreeks 10:20 van die skipper van ‘n plaaslike vissersboot, EME, gevra. Met die diensbemanning se aankoms by die boot is gevind die twee bemanningslede wat nie op hulle boot is nie, is deur die bemanning van die EME opgelaai. Susan Grové aan die stuur van die reddingstuig Marlene het met reddingswemmer Waldi Haarhof tot by die vissersboot gery en hy het oorgespring. Die boot is tot stilstand gebring en sy bemanning is oorgelaai. Daarna is hulle deur die NSRI na die strand begelei.
“Dit blyk twee bote is die oggend saam uit. Die boot met twee plaaslike mans het teruggekeer na die strand, toe een van die mans oorboord val. Die skipper het probeer om sy bemanning terug te trek, maar het toe ook uit die boot geval. Dit blyk die skakelaar wat die boot se enjin moes afsit, het nie geaktiveer nie, wat veroorsaak het dat die boot in sirkels om hulle gedraai het.”
Grové sê ‘n vullissak en ‘n koelboks het saam met die mans oorboord geval. Hulle het die vullissak opgeblaas en dit saam met die koelboks gebruik om te dryf. Hulle het egter geen manier gehad om alarm te maak nie, maar gelukkig het die EME op hulle afgekom, uit die water gehaal en hulp ontbied.
“Die vinnige denke van die twee mans, om die beste gebruik te maak van wat hulle het om te kan dryf, die reddingsoperasie deur EME, die vinnige reaksie van NSRI, sowel as die NSRI-stuurman- en reddingswemmer om die boot te beveilig, word geprys.”





