WES-KAAP. – Weerwaarskuwings in die Tuinroete-streek is van vlak 8 na vlak 6 verlaag, maar plekke soos Knysna, Bitou en die Langkloof-gebied bly onder druk ná swaar reën. Verskeie gebiede in Oudtshoorn, Kannaland, George en Bitou is tans van die buite-wêreld afgesny, terwyl sowat 450 mense reeds in skuilings gehuisves word. Lees hier onder watter paaie steeds gesluit is.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê damme soos Stormdrift en Kammanassie het gedurende die nag begin oorloop, wat bygedra het tot verhoogde watervloei vanaf die Grootrivier deur Meiringspoort en verder na Oudtshoorn en Calitzdorp, voordat dit Gouritz bereik en in die see vloei. Verskeie paaie is gesluit weens die sterk vloei en skade, insluitend Robinsonpas aan die Oudtshoorn-kant en Meiringspoort, wat waarskynlik vir ’n geruime tyd ontoeganklik sal bly. In Bitou ondervind owerhede probleme met watervoorsiening nadat pompe beskadig is, terwyl sommige gemeenskappe ook sonder kommunikasie sit. Nooddienste, insluitend die weermag, brandweer en polisie-duikers, is besig om inwoners uit afgesnyde gebiede soos Bergoord te ontruim. ’n Mediese reddingshelikopter word ook gebruik om afgesonderde gebiede te bereik en moontlik kos af te lewer.
Owerhede verwag dat watervlakke later vandag kan begin daal, maar waarsku dat baie paaie, insluitend die N9, Swartbergpas en verskeie distriksroetes, steeds gesluit bly. Die publiek word aangemoedig om voorvalle wat met oorstromings verband hou by die noodsentrum aan te meld en slegs amptelike kanale vir opdaterings te volg. Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit se rampbestuur doen ’n beroep op die publiek om enige vloedverwante voorvalle by die 24-uur-noodsentrum aan te meld by 044 805 5071 of by WhatsApp by 081 709 5193.
Kyk hier onder watter paaie steeds onbegaanbaar is:
TR2/12 – Grootrivier Pass (Nature’s Valley area)
TR75/2 – Oudtshoorn to Cango Caves (Oudtshoorn area)
TR33/4 – Meiringspoort (Oudtshoorn area)
DR1707 – Middelplaas (Oudtshoorn area)
MR369 – Swartberg Pass (Oudtshoorn area)
DR1709 – Groenfontein (Calitzdorp area)
MR401 – Huisrivier Pass (Calitzdorp area) Open
MR309 – Seweweekspoort (Ladismith area)
MR390 – Kruisvallei (Knysna/Plettenberg Bay area)
MR355 – Seven Passes (Knysna/Plettenberg Bay area)
DR1615 – Swart River (Knysna/Plettenberg Bay area)
MR346 – Buffels Bay (Knysna/Plettenberg Bay area)
MR359 – Barrington (Knysna/Plettenberg Bay area)
MR394 – Keurboomstrand (Knysna/Plettenberg Bay area)
TR44/1 – R62 Avontuur to Eastern Cape boundary (Langkloof area)
DR1645 – Waboomskraal (Langkloof area)
DR1640 – Montagu Pass (Langkloof area)
DR1602 – Kleinplaas (George area)
DR1633 – Jonkersberg (George area)
MR401 – Uniondale Poort and town (Uniondale area)
MR399 – Avontuur (Uniondale area)
TR01/2 – Herold to Noll (Langkloof area)
DR1604 – Haelkraal (Mossel Bay area)
DR1587 – Donaldshoogte/Botlierskop (Mossel Bay area)





