KWAZULU-NATAL. – Sabelo Phewa se vonnisoplegging in die Durban-hooggeregshof is tot Dinsdag 23 September uitgestel. Die regter het aangedui dat sy eers die getuienis in die hofrekord wil lees en slotbetoë wil aanhoor voordat sy ‘n uitspraak lewer.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die saak spruit voort uit die moord op Sibusiso Sithole, die voormalige Richmond- munisipale bestuurder, toe hy op 3 Maart 2017, toe hy op pad was na ‘n raadsvergadering oor korrupsie, doodgeskiet is. Phewa is aan dié moord skuldig bevind. Ballistiese toetsing het hom ook aan die moord op Amos Ngcobo, in Februarie 2017, in Hillcrest verbind.
Netshiunda bevestig hy is verder aan poging tot moord op polisiebeamptes en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.
Die ondersoek is deur die politiekemoord-taakspan uitgevoer.





