GAUTENG. – ‘n Voormalige onderwyser (41) wat daarvan beskuldig word dat hy twee 13-jariges en ‘n 15-jarige seun seksueel voorberei en aan pornografie blootgestel het, het in die Pretoria-landdroshof voorgekom.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die beskuldige het op drie aanklagte van blootstelling aan pornografie en vier aanklagte van voorbereiding in die hof verskyn. Die seuns is leerlinge van Raslouw Academy in Valhalla, in Centurion.
Na bewering het die beskudigde drie leerlinge in Augustus 2024 gekontak, naakfoto’s van homself gestuur en ook naakfoto’s van die leerlinge gevra. Nadat een van die slagoffers ‘n foto gestuur het, het die beskuldigde die seun met ‘n video-oproep gebel, waartydens hy sy penis in ‘n bottel geplaas het. Een van die slagoffers het ‘n onderwyser daarvan vertel. Daar is versoek die seuns moet hulle fone vir waarneming skool toe bring. Hulle ouers is deur die skool ingelig en kriminele sake is oopgemaak, waarna die beskuldigde op 13 Desember by sy huis in hegtenis geneem is.
Die saak is deur die hof tot 24 Desember vir ‘n moontlike borgaansoek uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding.





