GAUTENG. – Ntsumbedzeni Mulungani Mphego (57), ’n voormalige generaal-majoor van die polisiediens, is op borgtog vrygelaat nadat hy op ’n aanklag van die onwettige besit van ammunisie in die Johannesburgse-landdroshof verskyn het.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê meer as 100 rondtes ammunisie is na bewering op 6 Julie vanjaar tydens ’n deursoeking by Mphego se woning in Midstream Estate gevind. Die deursoeking was deel van die voortgesette ondersoek na die dood van genl. Mfazi, waarin Mphego ook ’n verdagte is. Verdere ondersoek het volgens die NVG aan die lig gebring dat die ammunisie na bewering aan die staat behoort en spesifiek vir gebruik deur die polisie vervaardig is.
Mphego het in September 2009 uit die polisiediens getree en het glo nie die nodige permit of magtiging gehad om die ammunisie te besit nie. Die staat het nie borgtog teengestaan nie en hy is op R5 000 borgtog vrygelaat. Die saak is vir die oorhandiging van die dossierinhoud tot 3 November uitgestel.