GAUTENG. – Richard Mluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie, en sy mede-beskuldigdes het Maandag onskuldig in die Pretoria-hooggeregshof op aanklagte van korrupsie gepleit.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC), sê die verhoor wat tot Vrydag sal duur, het begin met die staat se eerste getuie wat getuig het. Mdluli, saam met Heine Barnard, die voormalige voorsieningskettingbestuurder van die SAPD, en Solomon Lazarus, die hoof- finansiële beampte, is van korrupsie, bedrog en diefstal aangekla. Die aanklagte hou verband met die polisie se geheime fonds gedurende die tydperk wat hulle tussen 2008 en 2012 in die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie in diens was. Die beskuldigdes staan op verskeie aanklagte wat met hulle rolle tydens hul diens in die SAPD verband hou, tereg.
Hulle word daarvan aangekla dat hulle die fonds vir persoonlike voordele gebruik het, insluitend die betaling van privaat reise na China en Singapoer, die gebruik van ‘n getuie-beskermingshuis in Boksburg vir persoonlike doeleindes, asook die verhuring van Mdluli se privaat woonstel in Gordonsbaai aan die staat om sy verband te betaal. Bewerings word ook gemaak dat Mdluli familielede sonder voldoende kwalifikasies in misdaadintelligensie aangestel het en hulle van voertuie en selfone voorsien het. Lees ook meer hier.
Bronne: SAPD, Times Live en IOL
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





