GAUTENG. – Iwan Peter Schelbert (63) van die Paarl in die Wes-Kaap is Vrydag vir bedrog van meer as R376 miljoen tot vyf jaar direkte gevangenisstraf deur die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretroria gevonnis.
Schelbert is gevonnis nadat hy aan bedrog skuldig bevind is ingevolge artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet, ná die sluiting van ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat ingevolge artikel 105A van dieselfde wet.
Luidens die gesamentlike verklaring van die nasionale vervolgingsgesag en die Valke (direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke – DPO) het die bedrog op 21 November 2016 plaasgevind. Schelbert het op instruksie van die destydse finansiële hoof, Andries Benjamin la Grange, ’n bedrieglike faktuur aan TG Sources SARL in Switserland gegenereer. Betalings is daarna gemaak om dit as ’n wettige transaksie voor te stel, wat inflasie van meer as R376 miljoen op Steinhoff se finansiële state veroorsaak het.
“Die NVG en die DPO verwelkom hierdie skuldigbevinding en vonnis,” sê NVG-streekwoordvoerder Lumka Mahanjana en lt.kol. Christopher Singo van die Valke. Dit is die derde vonnis in die Steinhoff-saak, wat as een van die grootste en mees komplekse bedrogsake in die land se geskiedenis bestempel word.
Die saak teen Schelbert se medebeskuldigdes, Hein Adendaal en Stephanus Johannes Grobler, is tot 6 Februarie vir verdere verrigtinge uitgestel.
Steinhoff International was ‘n multinasionale beheermaatskappy wat dubbel genoteer was in Duitsland en Suid-Afrika. Dit is amptelik in Oktober 2023 gedenoteer. Sy belange was in die kleinhandelsektor, hoofsaaklik in meubels en huishoudelike goedere, en het ‘n 43,8%-belang in Suid-Afrika se Pepkor-groep ingesluit. Druk hier om meer te lees.
Bronne: SAPD en Wikipedia