KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou (42) is Vrydag in Hercuslaan in Belverdere, Tongaat, op besoek aan ‘n vriend deur twee honde aangeval en ernstig beseer.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing volgens inligting het inwoners omstreeks 15:15 hulp ontbied, waarop Rusa se Tongaat-beamptes hulle na die toneel gehaas het. Paramedici het vasgestel die vrou het ’n fraktuur aan haar linkerarm, asook bytmerke aan haar voorarm opgedoen.
Sy het glo die eiendom besoek om ’n vriend, wat ’n huurder daar is, te sien. Toe sy die hek oopmaak om toegang tot die perseel te verkry, het ‘n reun sowel as ‘n teef van ‘n bulterrier-kruising op haar afgestorm en haar aangeval. Sy het met die aanval van ’n stel trappe afgeval. Haar vriend het haar gille gehoor en na haar toe gehardloop. Die honde is weggekeer en die vrou is na veiligheid geneem.
Sy is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na ‘n hospitaal vervoer.





