MPUMALANGA. – ’n Vrou (33) is in hegtenis geneem nadat die liggaam van ’n man (37) Maandagaand in stukke in Wesselton, Ermelo, gevind is.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op liggaamsdele in ’n plastieksak afgekom, terwyl ander dele in ’n mieliemeelsak versteek was. Volgens voorlopige ondersoeke het ’n argument tussen die verdagte en die slagoffer tot die steekdood van die man gelei.
Die vrou word deur aanklagte van moord en regsverydeling in die gesig gestaar en sal Donderdag in die Ermelo-landdroshof verskyn.





