WELKOM, VRYSTAAT. – ’n Vrou (45) gaan Maandag 11 Maart 2024 in die Welkom-landdroshof op aanklag van korrupsie verskyn.
Sy het haar na bewering as ’n munisipale werker voorgedoen en omkoopgeld in ruil vir poste gevra.
Dit volg na die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit in Februarie 2024 die gemeenskap uitgenooi het om aansoek vir beskikbare verkeersbeampteposte te doen. ’n Werksoeker (20) het ’n oproep van die verdagte gekry waarin sy ’n pos belowe is indien sy haar R10 000 betaal.
Welkom se Valke-eenheid het die verdagte op 8 Maart 2024 tydens ’n lokval in hegtenis geneem. Sy was onder die indruk dat die werksoeker haar die geld sou betaal.
Volgens Lt.kol. Zweli Mohobeleli het hulle bevestig die verdagte is nie ’n werklike munisipale werknemer nie. Brig. Sophie Hange van die Valke het die inwoners van Welkom bedank vir hulle samewerking om die verdagte se dade te ontbloot. Sy het beklemtoon dat staatsposte nie te koop is nie.
Bron: SAPD





