KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ‘n vrou (42) is vanoggend in ‘n stroom water in Magwaveni ontdek.
Reaction Unit South Africa sê hulp van ‘n gemeenskapslid wat die ontdekking gemaak het, is net na 08:00 deur die operasionele sentrum, gevra. Die liggaam van die vrou is met haar gesig na onder, onder ‘n lae voetbrug gevind. Haar kop was in die water en het tussen twee rotse vasgesit.
‘n Inwoner het aan Rusa vertel hulle het Sondagaand uitroepe gehoor, maar was te bang om ondersoek in te stel. Die oorledene se liggaam is ongeveer 100 m van haar huis ontdek. Volgens haar familie het sy gistermiddag omstreeks 17:00 groente gaan koop, maar nooit teruggekeer nie.
Omstandighede van die vrou se afsterwe moet nog vasgestel word.






