Thys en Junëtt Smit van Virginia in die Vrystaat se babaseun Juwan is op 3 Januarie gebore. Vyf dae na sy geboorte, op 8 Januarie om 02:15 die oggend, het Junëtt ‘n beroerte gehad en intussen gesterf.
Thys Smit vertel op sosiale media Junëtt is na die beroerte vanaf Medicilinic in Welkom met bloeding op die brein na Mediclinic in Bloemfontein oorgeplaas. Net toe dit lyk of beterskap intree, het Junëtt op 10 Januarie ‘n epileptiese aanval beleef en het ook tydelik ophou asemhaal. Die aand moes sy dringend ‘n breinoperasie ondergaan.
Op 13 Januarie is Junëtt se sedasie in die oggendure gestop en op 14 Januarie het sy nog nie self reageer nie. Toetse vir breinaktiwiteit is gedoen. Intussen word medelye op sosiale media na Junëtt se afsterwe uitgespreek. Junëtt sou vandag saam met haar swanger tweelingsuster verjaar het.
Waar daar eers boodskappe en gebede vir beterskap was, het die kommentaar onder Thys se plasing op sosiale media nou in boodskappe van medelye verander. Regoor sosiale media stroom boodskappe van simpatie vir Thys en hulle twee seuns in.
Lees hier onder hoe Thys Smit vertel, waarom daar aanvanklik vir gebed vir Junëtt gevra is:
Hello vriende en familie.
Ek wil maar so bietjie vertel van Junëtt Smit se journey tot nou toe…
Almal bid, maar nie almal weet regtig hoekom nie.
Woensdagoggend 02:15, op 8 Januarie, 5 dae na sy geboorte gegee het aan ons perfekte seuntjie (Juwan ) het sy net skielik ‘n beroerte gekry. Sy het absoluut geen probleme gehad gedurende die swangerskap nie. Sy was dadelik daarna opgeneem in Mediclinic in Welkom. ‘n Paar uur later was sy oorgeplaas na Mediclinic in Bloemfontein. Sy het bloeding op die brein gehad. Daarna het alles mooi begin herstel. Sy het die normale skade gehad wat mens sal hê na ‘n beroerte. Die bloeding was besig om self te absorbeer.
Vrydagmiddag, 10 Jan. kry sy ‘n epileptiese aanval en sy hou op asemhaal vir ‘n rukkie. Sy kom toe weer terug terwyl sy baie hard baklei vir ons twee pragtige seuntjies. Dieselfde Vrydagaand 10 Jan. moes sy ‘n dringende breinoperasie kry. Dr. wou bloeding verwyder en ‘n apparaat inplant om drukking te monitor. 4 cm sny in haar skedel. Ons almal glo die operasie was ‘n sukses.
13 Januarie, 03:00 die oggend word haar sedasie gestop. Dit is nou 14 Januarie 04:00 en steeds geen reaksie van haar af nie.
Vanoggend toets die dokters vir breinaktiwiteit. Op die stadium, volgens haar neuroloog, kan dit nie nog slegter met haar gaan nie. Sy is op maksimum medikasie en niks meer wat hulle vir haar kan doen nie. Ons glo en bid vir ‘n wonderwerk vir vandag. Dit gaan vandag haar moelikste dag nog wees.
Ons vertrou dat die Here vir haar krag sal gee om te baklei vir haar twee seuns.







