GAUTENG. – Pamela Ncumisa Selani (47) van Olievenhoutbosch is drie keer lewenslank deur die Pretoria-hooggeregshof tronk toe gestuur, nadat sy twee kêrels en haar seun vermoor het. Die liggame was bo-op mekaar, agter in haar erf, begrawe.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Selani is adisioneel nog vyf jaar vir regsverydeling gevonnis.
Selani en Micheal Changisa het in 2016 ‘n argument gehad nadat sy ontdek het hy het haar met ‘n kroniese siekte aangesteek. Sy het Gift, ‘n tweede kêrel, ‘n Malawiër, gevra om Changisa te vermoor. Gift het een aand die huis van Selani en Changisa binnegegaan en in die badkamer weggekruip. Nadat Changisa gaan slaap het, het Gift hom herhaaldelik, voor Selani se twee minderjarige kinders, met ‘n hamer oor die kop geslaan. Changisa het gesterf en is deur Selani en Gift agter in die erf begrawe.
Selani en Gift het nou saam in die moordhuis gebly. Gedurende 2017 het Selani met Avile Jonjwana (17), haar seun, saamgesweer om Gift, wat haar mishandel het, dood te maak. Gift is daarna eers deur die ma en seun vergiftig, waarna sy kop onder water gehou is totdat hy dood is. Gift is bo-op Changisa agter in die erf begrawe.
Jonjwana, Selani se seun, wat ‘n dwelmgebruiker was, het sy ma vir geld begin afdreig om nie die polisie van die moorde te vertel nie. Jonjwana het een aand sy ma en jonger sibbe uit die huis gejaag. Selani en die jonger kind het by haar derde kêrel, in dieselfde area, ingetrek. Die volgende aand het hulle na haar huis teruggekeer en in die erf weggekruip en vir Jonjwana gewag om huis toe ete kom.
Terwyl Jonjwana geslaap het, het Selani haar jonger kind die huis laat ingaan en laat oopsluit. Selani het vir Jonjwana met ‘n hamer geslaan totdat hy dood is. Hy is bo-op sy ma se twee vorige kêrels in dieselfde graf begrawe.
Selani se jonger seun (14) het op 4 Augustus 2020 tydens ‘n besoek aan ‘n tradisionele geneser van die moorde vertel. ‘n Gemeenskapsleier is ontbied en die seun het dieselfde aan hom vertel, waarop die gemeenskapsleier polisie toe is. Selani en die seun is in hegtenis geneem, maar aanklagte is teen die seun, wat ‘n staatsgetuie was, laat vaar.
Mahanjana sê Selani het onskuldig op die aanklagte gepleit. Die staat kon egter bo redelike twyfel sy saak bewys. Selani het tydens vonnisoplegging gesê sy is ‘n eerste oortreder, dat sy deur Changisa met ‘n lewensbedreigende siekte aangesteek is en dat sy ‘n slagoffer van mishandeling is.
Die staat het egter voorgehou Selani wys geen berou nie en het steeds gesê sy is onskuldig. Die staat het die hof gevra om ‘n boodskap met die vonnisoplegging te stuur, om die gemeenskap te keer om dieselfde tipe misdade te pleeg.
Regter Papi Masopa het saamgestem en gesê hy is van mening Selani is ‘n bose persoon. Hy hoop die vonnis sal Selani ‘n beter mens maak wat menselewens sal respekteer.
“Dit is deur genade dat die 14-jarige nie vermoor is nie.”
Die NVG het die vonnis verwelkom.





