MPUMALANGA. – Vyf mense is Vrydagmiddag in ’n botsing tussen twee motors en ‘n vragmotor op die N2 tussen Ermelo en Mkhondo (voorheen Piet Retief) naby Ngwempisi dood.
Luidens ‘n verklaring deur Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, aan Nuusflits het die bestuurder van die een motor volgens voorlopige inligting teen meer as 170 km per uur gery en versuim om op bevel te stop. Sy motor het daarna met ’n ander motor gebots, waarna dié sedan, met vier passasiers, na bewering beheer verloor en teen ‘n vragmotor gebots het. Vyf mense – die bestuurder van die motor en vier passasiers – is op die toneel dood.
Mmusi bevestig die bestuurder van die ander sedan, wat alleen in die voertuig was, is in hegtenis geneem. Hy word deur aanklagte van oormatige spoed, versuim om aan ’n wetstoepasser se opdrag gehoor te gee en beweerde bestuur onder die invloed van alkohol in die gesig gestaar.
’n Ondersoek oor die botsing is reeds aan die gang.
Jackie Macie, die LUR van die departement, het weer ’n beroep op motoriste gedoen om verantwoordelik op te tree om onnodige lewensverlies op paaie te beperk. Hy het ook meegevoel met die families van die oorledenes uitgespreek. “Daar is al te veel trane gestort en te veel gesinne is deur roekelose en nalatige bestuur verpletter. Dit moet stop. Alle padgebruikers moet hul deel doen deur die reëls te gehoorsaam sodat ons paaie veiliger kan wees.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





