FRANKRYK. – Vyf migrante is dood nadat hulle vroeg Sondagoggend probeer het om die gevaarlike Engelse kanaal vanuit die Noorde van Frankryk na Brittanje oor te steek.
Dit volg nadat ’n oorlaaide boot naby die Franse kusdorpie, Wimereux se strand opgemerk is. Na bewering het die migrante in die moeilikheid beland toe hulle probeer het om die boot van die strand af te bereik.
Volgens Jacues Billant, topadministrateur vir die noordelike Pas-de-Calais-streek, was die seewater slegs 7°C bo vriespunt. “’n Persoon sal nie vir langer as tien minute in sulke omstandighede kan oorleef nie. Die slagoffers het heel moontlik hipotermie opgedoen of aan termiese skok gely.” Hy het bevestig dat al vyf slagoffers Siriërs was.
Van die slagoffers se liggame moes uit die water gehaal word terwyl ander op die strand uitgespoel het. ’n Verdere 32 migrante is ongedeerd gevind.
Daar was vir 27 dae geen migrante in die Engele kanaal opgemerk nie. Hierdie insident is die eerste vir 2024.
Bronne: BBC News, SkyNews, ABC News





