Irene-Louise van Wyk het Saterdag, nadat sy reeds ‘n week lank onder kritiek van “haters” deurloop, gevra wanneer dit gaan ophou en wanneer is dit genoeg.
“Wanneer gaan dit ophou? Wanneer is genoeg genoeg? Dis nou amper ‘n hele week waar ek letterlik nou al te bang is om my social media se notifications oop te maak. ELKE LIEWE dag wat ek net meer en meer aangeval word oor alles moontlik. My kleredrag, my lippe, my makeup, my musiek, my menswees, my lashes letterlik elke liewe ding. Ja dis maklik om net te “vergeet van haters” maar joh. Mens kan net soveel vat voor dat jy swart en blou is van al die houe. Louise Pretorius, ek hoop genuinely jy’t nie kinders nie. This is not ok.”
Verlede Sondag het Rapport oor die sangeres se nuwe liedjie saam met Bobby van Jaarsveld berig. Die berig wat die sangeres as goeie nuus bestempel het, het vinnig ‘n aaklige wending met die publiek se kommentaar geneem. Van Wyk sê sy het haar hart oopgemaak en openlik oor gewigsverlies, selfvertroue en depressie gepraat.
Die aand het sy egter ‘n sosialemediaplasing gemaak om te sê sy gaan as gevolg van kommentaar met ‘n swaar hart slaap: “Die aakligste, walglikste lelikste kommentaar oor letterlik alles van hoe ek sing tot “wel jy lyk nogsteeds soos ‘n bus” dan wonder ons hoekom word kinders geboelie op skool… want hierdie is hulle ma en pa en oumas en oupas wat die VIESLIKSTE goed comment op iemand wat hulle nie eers ken nie. Meeste van die tyd laat ek dit by my rug net afgly en ek shake it off, maar vandag voel my skouers swaar en my trane lê vlak. Ek is ook net ‘n mens.”
Op 16 Maart het Demi Lee Moore haar stem dik gemaak en by dié van Van Wyk gevoeg: “Dit is GLAD NIE ok dat iemand so deur die modder gesleep word nie. En sy probeer net haar nuwe liedjie deel. My hart is seer, my vriendin Irene-Louise Van Wyk verdien dit nie. Do better!!!!! Kyk uit vir haar en Bobby se nuwe liedjie wat een van die dae vrygestel word!!”
Al die kommentaar was nie net lelik nie en Van Wyk het ook dankie gesê vir die mooi kommentaar. Op 17 Maart sê sy al was sy die vorige dag deur haat oorval, het sy ‘n oorvloed liefde en omgee ontvang: “Baie dankie vir elke comment, elke WhatsApp, elke DM. Ek waardeer julle so baie. Hoe sê hulle – die hoogste bome vang die meeste wind?”
Nuusflits het voorheen op sosiale media gevra die publiek moet saampraat oor die reg al dan nie van die publiek om neerhalende opmerkings op sosiale media te maak. Lees die kommentaar elders.