Wêreld van foto’s neem

Lees ook :

Wat ’n voorreg om te kon deel wees van FiND iT toe ons nog net aan logo’s en name gedink het vir hierdie nuusblad wat binne ’n jaar gegroei het tot die grootste aanlyn-koerant in die Noord-Kaap.

Van idees en brainstorm het dit gegaan na FiND iT wat sy deure oopmaak op 1 Maart 2018, met ekself as deel van die span – ’n hele nuwe wêreld vir my.

Vir baie jare was fotografie nie net my werk nie, maar ook my passie. Maar net so vinnig soos wat FiND iT gegroei het, het ek ’n liefde vir skryf ontwikkel. Dalk omdat ek al vantevore daaraan gedink het om joernalistiek te doen. Fotografie en joernalistiek loop tog in ’n mate hand aan hand.

Elke dag is onvoorspelbaar met geen idee wat die dag gaan inhou nie. Sommige stories was geweldig opwindend en interessant, ander stories was stresvol. Soms word jy gedreig, ander kere beledig. Daar was ook hartseer verhale. Een hiervan was beslis dié van die negejarige dogtertjie van Platfontein. Elke dag na haar verdwyning het ons in spanning gewag op nuus, selfs saam na haar gesoek. Nie net vir ’n storie nie, maar omdat ons emosioneel betrokke geraak het by ’n kind wat iewers alleen en bang is.

Vandag, na presies ’n jaar by FiND iT, is ek bly ek is hier om dit te vier. Ek gaan my weer begewe in die wêreld van foto’s neem en groet vir eers die nuuskant van joernalistiek. Veels geluk, FiND iT! – Alta van Wyk.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief