Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie skoolvakansies by my ouma op die plot gaan kuier het. Net na die nuus en ’n laaste koppie tee het ons in die bed gaan klim. Nie moeg nie, maar te bang om alleen in die sitkamer te sit, moes ek maar ’n boek of ’n koerant nader trek om myself besig te hou. Dit was in ’n tyd voor ’n selfoon jou ure lank kon besig hou. Ek dink my liefde vir lees en skryf en ook om alles te weet wat in die wêreld aangaan, het daar begin.
Ek is bevoorreg om deel van die FiND iT-span te kan wees en my passie uit te leef. Ek het al baie die gesegde gehoor van: “Do what you love and you wil never work a day in your life.”
En ek doen! Elke dag is iets nuut, ’n nuwe uitdaging, nuwe mense, nuwe ervarings. Waar jy ook ’n dik vel moet kry, omdat jy nooit weet wanneer iemand jou, soos Steve Hofmeyer, met ’n koppie tee in die gesig wil gooi nie.
In dié bedryf het ek ook besef dat jy baie vyande maak terwyl jy eintlik net jou werk doen.
Jy weet hier kom ’n sensasie-storie wanneer iemand jou bel met die woorde: “Hallo, hoe konfidensieel is julle bronne, want ek het vir jou ’n lekker storie?”
Vriende en familie dink twee keer voor hulle vir jou iets vertel. “Moenie te veel sê nie, môre is dit in die koerant,” spot hulle altyd as ek in die omtrek is.
Ek weet nooit wat elke dag gaan inhou nie. Ek het ook nie besef watter impak sommige stories op my sal hê nie. Van mense wat jou aangluur in die hof tot bebloede ongelukstonele waar jy soms weggejaag word omdat mense dink jy’s nuuskierig.
As onervare joernalis, sal ek nooit my eerste groot storie vergeet waar ek ’n 9-jarige meisietjie 20m voor my leweloos sien lê het nie. Ek dink nie mens sal ooit gewoond raak aan so iets nie.
Maar, soos my pa altyd sal sê, elke sport het sy beserings.
Ek is dankbaar om deel te kan wees van FiND iT wat binne ‘n jaar die grootste aanlyn-nuuskoerant in die Nood-Kaap geword het. – Charné van der Merwe