Wêrelddownsindroomdag by Voortrekkermonument gevier

Lees ook :

Foto's: Maryna Eksteen

GAUTENG. – Wêrelddownsindroomdag is Saterdag by die Voortrekkermonument gevier, waar ’n inklusiewe Buddy Walk mense met Downsindroom, hul families en die breër gemeenskap bymekaargebring het. Die Downsindroomvereniging van Suid-Afrika en die Pioniersentrum het saam met Helpende Hand se tuisversorgingstudente die geleentheid moontlik gemaak.

Maryna Eksteen van Die Erfenisstigting sê die dag word as simbool van die drie chromosome 21 gevier en het vroegoggend by die Pionierswerf afgeskop met kleurvolle stalletjies en versierings in geel en blou, kleure wat bewusmaking en hoop verteenwoordig. Teen 10:00 het die amptelike verwelkoming plaasgevind, waarna deelnemers aan die Buddy Walk deelgeneem het as ’n simboliese stap na groter insluiting in die samelewing. Verskeie aktiwiteite soos speletjies vir kinders, gesigverf, toutrek, ’n tombola en fotostasies het bygedra tot ’n lewendige en gesellige atmosfeer, met musiek en beweging wat die dag se feestelike karakter versterk het.

Dané van Wyk, voorsitter van Helpende Hand se opleidingsinstituut, sê gemeenskapsinisiatiewe soos hierdie help om mense nader aan mekaar te bring en ’n kultuur van ondersteuning en omgee te bevorder.

Hanlie Swanepoel, organiseerder van die Downsindroomvereniging, het gesê Wêrelddownsindroomdag is ’n belangrike geleentheid om mense met Down se sindroom se waarde, talente en bydraes te vier, asook om bewustheid te verhoog en families te ondersteun.

Volgens Christa Jansen, bedryfshoof van kultuur en opvoedkundige programme, is dit vir die sentrum belangrik om ’n inklusiewe en toeganklike omgewing te skep waar alle besoekers welkom voel. Sy het bygevoeg dat samewerking met organisasies help om die terrein lewendig en betekenisvol vir verskillende gemeenskappe te hou.

Wêrelddownsindroomdag dien as ’n herinnering dat mense met Down se sindroom nie net deur hul chromosome gedefinieer word nie, maar deur hul unieke persoonlikhede en bydraes tot die samelewing, en dat inklusiwiteit en aanvaarding ’n gedeelde verantwoordelikheid is.

Buddy Walk vir Internasionale Downsindroomdag by die Voortrekkermonument

Bron: Maryna Eksteen Mediaverklaring en Foto’s

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief