Brekende Nuus
Nuus

Wes-Kaap vra dringende ingryping by hawens oor medisynetekort

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Mireille Wenger, Wes-Kaapse gesondheidsminister, het ’n beroep op Barbara Creecy, die nasionale vervoerminister, gedoen om dringend moontlike knelpunte by Suid-Afrikaanse hawens te ondersoek wat die toevoer van noodsaaklike medisyne aan openbare gesondheidsorginstellings kan vertraag.

Robyn Thomson, woordvoerder van dié Kaapse departement, sê Wenger het in ’n brief aan Creecy gevra dat die verwerking en vervoer van ingevoerde medisyne voorkeur geniet, veral by die Durbanse hawe, waar kommer oor vertragings bestaan. Die presiese aard van die vertragings is nog nie vasgestel nie, maar die Wes-Kaapse departement wil hê dat die betrokke owerhede, terminaaloperateurs en ander rolspelers dringend saamwerk om moontlike struikelblokke te identifiseer en aan te spreek.

Ingevoerde medisyne moet eers ná aankoms in Suid-Afrika streng gehaltetoetse ondergaan voordat dit aan gesondheidsorginstellings versprei kan word. Dié proses kan tussen drie en vier weke duur. Wenger beklemtoon dat die nodige veiligheidstoetse nie afgeskeep mag word nie, maar dat vermybare vertragings in die voorsieningsketting beperk moet word.

Die Wes-Kaapse regering probeer reeds om medisynetekorte aan te spreek en het die kwessie voorheen met dr. Aaron Motsoaledi, nasionale minister van gesondheid, bespreek. Die tekorte word onder meer toegeskryf aan vervaardigingsbeperkings, ontwrigting van internasionale verskeping, agterstallige bestellings by verskaffers, verkrygingsprobleme en regulatoriese vertragings.

Volgens Wenger doen gesondheidspanne hul bes om die wisselvallige beskikbaarheid van medisyne te bestuur deur alternatiewe te bekom en beskikbare voorraad tussen instellings te herverdeel. Sy sê dié maatreëls raak egter al moeiliker namate tekorte voortduur en dat samewerking tussen die regering en die bedryf nodig is om pasiënte se toegang tot noodsaaklike medisyne te beskerm.

Druk hier om meer te lees.