WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse regering doen ’n beroep op die nasionale regering om dringend op te tree oor voortgesette medisynetekorte wat pasiënte en gesondheidsdienste in Suid-Afrika raak.
Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, sê veral mense met chroniese toestande wat daagliks medikasie benodig, is afhanklik van betroubare voorraad. Die tekorte word volgens die provinsiale departement deur verskeie probleme in die land se farmaseutiese voorsieningsketting veroorsaak. Wenger sê sy het die probleem reeds voor ’n vergadering van die Nasionale Gesondheidsraad op 11 Junie geopper. Die raad het die erns van die voorsieningsprobleme erken en saamgestem dat beter nasionale koördinering en monitering nodig is.
Omdat die tekorte maande later voortgeduur het, het Wenger in September aan dr. Aaron Motsoaledi, die nasionale minister van gesondheid, geskryf om nasionale optrede en duidelike tydlyne vir oplossings te vra. Oorsake sluit volgens die departement vervaardigings- en regulatoriese probleme, beperkte verskaffersvoorraad, vertragings met invoer en doeane, asook vertragings met die toetsing en vrystelling van sekere medisyne in.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand monitor voorraad weekliks by die Kaapse mediese depot, rapporteer voorraadvlakke en verskaffers se prestasie aan die nasionale regering en verskuif voorraad tussen gesondheidsfasiliteite waar nodig. Waar ’n voorgeskrewe middel nie beskikbaar is nie, werk aptekers en klinici saam om ’n geskikte alternatief te vind. Pasiënte kan ook tydelik kleiner hoeveelhede ontvang of ’n ander sterkte, verpakking of formulering kry.
Die departement moedig pasiënte aan om hul medisyne soos gewoonlik te gaan haal en met ’n dokter, apteker of verpleegkundige te praat indien hul medikasie anders lyk of verander het. Behandeling moenie sonder professionele advies gestaak of aangepas word nie.
Druk hier om meer te lees.