WES-KAAP. – Die saak teen 11 polisiebeamptes van die Wes-Kaapse teen-bende-eenheid wat van moord en ernstige aanranding aangekla word, is tot 15 Desember uitgestel. Die aanklagte hou verband met die dood van Wade Price (31), en die beweerde aanranding op sy vriende verlede Donderdag in Mannenberg.
Lizzy Suping van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat, sê daar word beweer dat Price naby die Athlone-landdroshof tydens ’n ondervraging oor ’n moord wat die vorige week plaasgevind het, gesterf het. Die polisie het aanvanklik aangedui dat hy oor oorpyn gekla en daarna inmekaargesak het.
’n Opod-ondersoek het egter bevind dat die oorledene aan onnatuurlike oorsake dood is. Verdere besonderhede sal tydens die verhoor aan die lig kom. Die 11 polisiebeamptes word aangekla van moord, vier aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, vier aanklagte van ontvoering en een aanklag van marteling.
Die saak is vir formele borgtogaansoek van beskuldigdes 7, 9 en 11 tot 15 Desember verdaag. Die groep word in die Bellville-polisiekantoor aangehou.





