Die WGO het ’n polio-uitbraak in Papoea-Nieu-Guinee verklaar en het gesê ’n inentingsveldtog moet “onmiddellik” geloods word.
Lees ook: Israel en Hamas stem ooreen tot skietstilstand vir polio-inentings
Spore van die siekte is in twee gesonde kinders tydens ’n roetine-ondersoek in Lae gevind. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is minder as die helfte van inwoners in Papoea-Nieu-Guinee teen polio ingeënt en daar is kommer dat die siekte na ander lande kan versprei.
Die Verenigde Nasies se Kinderfons (Unicef) het aangekondig dit werk met plaaslike owerhede om seker te maak elke kind word teen polio ingeënt. Volgens Unicef werk dit ook saam met kerke om seker te maak ouers en kinders kry die regte inligting, en om inentings aan te moedig.
Polio het onlangs weer in verskeie Asiese lande begin versprei. Daar was verlede jaar 74 gevalle van polio in Pakistan en 24 in Afghanistan. Die WGO het ook gewaarsku oor ’n polio-uitbraak in die oorloggeteisterde Gaza.
Bronne: BBC, UNICEF, ABC
Lees ook: WGO bekommerd oor moontlike polio-uitbraak in Gaza





