Theané Willemse (13) ‘n jong model van Kimberley, is op pad na Egipte waar sy vanaf 22 tot 29 Maart aan die International Television Contest Festival gaan deelneem.
Sy staan uit
Theané, ‘n gr.8-leerder van Hoërskool Diamantveld, is vir die afgelope jaar al deel van Jean-Marie Spicer se modelskool Vogue, in Kimberley.
Jean-Mari vertel dat sy maande gelede vir Adele, ‘n vrou wat internasionale modelkompetisies aanbied, by ‘n geleentheid in Johannesburg ontmoet het.
Adele het haar van die kompetisies vertel en Jean-Mari het voorgestel dat sy foto’s en video’s van die modelle by haar modelskool vir haar sal stuur. “Ek het vir Adele gevra dat sy die keuringproses moet doen en die modelle wat sy dink potensiaal het, kies. Theané is die enigste model wat uit my modelskool gekies is.”
Sunet vertel dat hulle glad nie verwag het dat Theané gekies sou word nie. “Ons was baie verbaas omdat dit maar haar tweede jaar is wat sy dit doen. Ek was nie bewus waste groot eer dit is nie.”
Adele het voorgestel dat Theané aan die kompetisie in Egipte moet gaan deelneem. “Dis amper soos Mej. Wêreld, net vir kinders,” vertel Jean-Mari verder.
Kompetisie
Tydens die kompetisie gaan Theané vier uitrustings dra. By elke uitrusting moet haar “houding” op die loopplank by haar uitrusting pas. Sy gaan ook moderne dans doen tydens die talentafdeling waar elke deelnemer ‘n talent moet wys.
Die grootse doel van die kompetisie is dat Theané haar land moet gaan verteenwoordig. Sy moet ook tydens die kompetisie ‘n tafel dek wat eg Suid-Afrikaans is waarop onder andere biltong, droëwors en koeksisters op houtborde uitgepak gaan word. Daar sal ook Proteas en Amarula wees.
Carmen Couture, een van Kimberley se ontwerpers, maak al Theané se uitrustings insluitende haar “showstopper”. Die rok word gemaak dat dit soos die landsvlag lyk. “Ek wens julle kon die rok sien, dit is uit die boeke uit. Ek kan dit ongelukkig nie voor die kompetisie op sosiale media plaas nie,” vertel Theané se ma, Sunette.
Die groot pak
Theané vertrek dus al die 15de Maart, ‘n week voor die kompetisie saam met haar ouers en broer na Egipte. “Qns het besluit om ‘n week vroeër te gaan omdat ons Theané alles wil gaan wys. Vandat sy in gr.4 oor Egipte geleer het, was dit nog altyd haar droom om soontoe te gaan. Dit sal haar ook help om Egipte nog beter te verken omdat die deelnemers vrae oor Egipte moet beantwoord,” sê Sunette
Elke deelnemer moet ook geskenkies vir die ander 50 deelnemers en die beoordelaars saamneem. Die deelnemers kry elke een ‘n magneet met die Groot Vyf op.
Sunette vertel dat hulle nog moet besluit waste geskenkies hulle vir die beoordelaars wil saamneem. “Ons besluit nog nog tussen drupmatjies met Mandela, die Groot Vyf en proteas op, of ‘n ornament van die Groot Vyf.
Kritiek
Sunette vertel dat Theané baie kritiek en teenkanting van mense kry. “ Mense is slegs vriendelik tot jou kind wen. Kinders is wel anders. Hulle vergewe gou en gaan aan na ‘n kompetisie.”
As Theane haar rok en haar skoene uittrek, is sy nog steeds net ‘n 13-jarige meisie, beaam Sunette.