WES-KAAP. – Twee mense is dood en nog sowat 30 het beserings opgedoen toe ‘n vragmotor en ‘n ligte motorvoertuig gisteraand op die R45 naby La Motte buite Franschhoek gebots het.
Franschhoek First Responders was saam met verskeie nooddienste op die toneel om die slagoffers te behandel. Die beseerdes het beserings opgedoen wat van matig tot kritiek gewissel het en is deur verskeie nooddiensspanne behandel. Twee van die slagoffers is egter op die toneel of kort daarna aan hul beserings dood.
Franschhoek First Responders het hul dank uitgespreek teenoor die Wes-Kaapse departement van gesondheid se nooddienste, die SAPD, ER24, Titanium Securitas, wetstoepassingsbeamptes, verkeersowerhede en die insleepdiens vir hul samewerking en ondersteuning tydens die grootskaalse reddingsoperasie. Die organisasie het ook sy innige meegevoel met die families en geliefdes van die twee oorledenes betuig.





