NOORD-KAAP. – Thabo Thobeli (59) het namens sy maatskappy, Botsho Botle CC, skuldig gepleit op 49 aanklagte van bedrog en ook op 50 aanklagte van geldwassery in sy persoonlike hoedanigheid. Hy is as direkteur van ‘n maatskappy tot effektief drie jaar gevangenisstraf gevonnis.
Lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, sê Thobeli was tussen April en Desember 2020 ‘n direkteur van Botsho Botle CC. Die maatskappy het bedrieglike tydelike werkloosheidsverligtingsfondseise, oftewel TERS-eise, by die departement van arbeid ingedien deur vervalste salarisstrokies te gebruik en valslik voor te gee dat sekere mense werknemers van die onderneming was. Die departement van arbeid het R145 000 op grond van die vervalste dokumente aan die maatskappy uitbetaal. Die geld het egter nooit die bedoelde begunstigdes bereik nie.
Thobeli het op 25 Mei 2025 in die Kimberley-hof vir ernstige handelsmisdade skuldig gepleit. Die hof het hom op 21 Julie 2026 tot 36 maande direkte gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook met R50 000 beboet vir ‘n oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA), maar dié boete is vir vyf jaar opgeskort.





