3 lewenslank tronk toe vir moord op bekende plantkundiges

Lees ook :

Foto: Pacific Bulb Society

KWAZULU-NATAL. – Dr. Rodney Saunders en dr. Rachel Saunders, bekende plantkundiges, is gedurende Februarie 2018 ontvoer, beroof en vermoor. Fatima Bibi Patel (36), Sayefudeen Aslam Del Vecchio (46) en Musa Jackson (43) is deur die Hooggeregshof skuldig bevind en tot dubbele lewenslange gevangenisstraf, asook bykomende tronkstraf, gevonnis. Hulle is skuldig bevind aan ontvoering, roof met verswarende omstandighede, diefstal en twee aanklagte van moord. Del Vecchio is ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir kwaadwillige beskadiging van eiendom.

Natasha Ramkisson-Kara, NVG-streekwoordvoerder, beskryf dit as die suksesvolle afhandeling van ‘n uiters komplekse saak wat plaaslik en internasionaal groot aandag geniet het. Die Saunders-egpaar, wat in Kaapstad gewoon het en Suid-Afrikaanse sowel as Britse burgers was, het in Februarie 2018 die Ngoye-woud in Zoeloeland besoek om skaars sade te versamel. Hulle is oorval, ontvoer en van hul besittings beroof. Die beskuldigdes het daarna toegang tot hul bankrekeninge verkry en meer as R700 000 deur elektroniese oorplasings, kontantonttrekkings en Bitcoin-aankope gesteel.

Die ondersoek het begin nadat die egpaar as vermis aangemeld is. Speurders het verdagte banktransaksies opgespoor, waarna kringtelevisiemateriaal hulle na Del Vecchio se voertuig gelei het. Patel en Del Vecchio is later in hegtenis geneem nadat hulle na bewering probeer het om een van die Saunders’se se bankkaarte by ‘n winkelsentrum in Westville te gebruik.

Jackson is sowat drie weke later aangekeer. Polisiebeamptes het tydens deursoekings verskeie gesteelde items, kontant en ‘n kledingstuk met bloedspatsels gevind. Forensiese ontleding het bevestig dat die bloed met albei slagoffers se DNS-profiele ooreenstem. Die egpaar se ontbindende liggame is later langs die Tugelarivier gevind. Hulle was onder meer in slaapsakke in ‘n rivier vol krokodille gegooi.

Die verhoor het drie jaar geduur en is agter geslote deure onder streng veiligheid aangehoor. Die staat het ongeveer 60 getuies geroep, insluitend forensiese kenners, finansiële ondersoekers, selfoondata-ontleders en werknemers van winkels waar die beskuldigdes die slagoffers se bankkaarte gebruik het.

Volgens die NVG het die beskuldigdes die verrigtinge herhaaldelik vertraag deur talle uitstelversoeke en verskeie tussentydse aansoeke. Die staat het aangevoer dat die moorde uiters wreed en berekend was en dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan het wat ‘n ligter vonnis geregverdig het nie. Elke beskuldigde is tot lewenslange gevangenisstraf op elk van die twee moordaanklagte gevonnis, vier jaar vir ontvoering, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en vier jaar vir diefstal. Del Vecchio is ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir ‘n brandstigtingsvoorval op Tongaat Hulett-plase in 2017. Al drie is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.

Lees meer oor die misdaad hier onder:

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief